Sunday, February 18, 2007

 

1 + 1 = 3

Hier is hy.

Die wat nie wil sien hoe die Shepherd babatjie lyk nie, gaan nou weg want hierdie hele blog posting word toegewyg aan die nuwe toevoeging van ons gesin.

Die aankoms van klein Martin Shepherd (Jr) [die naam is al toegeken toe ek nog 17 jaar oud was, ter ere van my pa, Martin. Die naam is gepas omrede dit in 'n mate van familienaam is (sy oupa s'n) maar ook nog modern is deurdat ek nie die hele Johannes Marthinus ding doen nie. Dit sou by the way nie so 'n sleg plan gewees het nie aangesien skoonpa, die ander oupa, ook Marthinus Johannes in sy doopname het. In elk geval, my eerste ernstige meisie op skool moes al hoor dat my eerste seun eendag Martin sal wees, en basta. No negotiations. Wel, so 'n handjievol girls het oor die jare dieselfde reël gehad maar dit was Anel wat eventually my voor die kansel kon kry en die klein Martin kon baar.]


Anyway, daar loop ek weg met die draad van my storie. Die aankoms van klein Martin Shepherd (Jr) was Sondagoggend 11:20 am, die 18de Februarie 2007. Anel het reeds 1:20, 'n hele tien ure vroeër, in kraam gegaan, maar daai tyd van die nag is dokters nie oorgewillig nie. So jou vrou lê maar en wriemel van pyn tot so 3-uur die oggend, waarna 'n dokter eindelik kom kyk, en dan sê hy sal die narkotiseur laat kom vir die epiduraal, wat dan eers 6-uur die oggend opdaag en die naald in die rugwerwel druk (eish) wat dan tot 10-uur vat om te werk, wat lei tot die poging om die kind normaal te laat kom (want dis wat die briljante vroueginekoloog voorgestel het) net om 'n halfuur later te hoor die kind is te groot vir die bekken en 'n keisersnit moet gedoen word, wat lei tot ekstra verdowing en 'n trippie na die teater en uiteindelik, 10 uur later, skree die outjie.


Amazing. Tipies Afrika, maar amazing.


In elk geval, die outjie is uit op 4,03 kg en 55 cm. Nie te klein nie. 8.8 pond in ou taal.


Maar soos julle sal verwag, is die doel van hierdie posting nie om te praat oor die geboorte en die baba nie, maar oor die plaas van fotos van die geboorte van die baba. Weereens, die van julle wat dit nie wil sien nie, kyk weg, gaan weg. 'n Paar grillerige foto's volg.



Die eerste foto, vars uit die baarmoeder. Grillerig, maar mooi op 'n materne manier...

Oomblike later is hy afgevee, en hou wrintiewaar alreeds my vinger vas met sy klein handjie. Eintlik is dit 'n groterige handjie, want daai worsie vingers van my is nie baie klein nie.

En daar is al drie van ons in die teater gelukkig. Eintlik nee. Een van ons is verlig (die ou met die bril en koplappie), die ander is is doped up op morfien (die ander grote) en die derde een is verward omrede hy weer onderstebo lê onder skerp ligte nadat vreemde monsters hom uit sy huis gepluk het so flussies.


'n Baie onvleiende foto van klein Martin, maar eintlik net om sy gewig te bewys.

En die foto wat ek na meeste mense ge e-mail het. Dis klein Martin en Anel in die recovery room na sy eerste bad en voeding. Nice.

Groetnis, ek sal met die tyd enige gebeure seker weer post, maar sal tussendeur gewone blogs ook probeer.












Monday, February 12, 2007

 

Long time no see

Wel ja, ek is ook uit die steentydperk. Ek was nog besig op die ou Blogger laas jaar en het sit en wag vir Beta, nou sien ek Beta is ook al weer verby so ek het nou ge"upgrade" na die nuwe Blogger en sal sien wat nuut is so met die tyd saam.


Ek het bitter lanklaas geblog, want dit was vakansie en dit was baie werk en tussendeur die baba stories en alles. Maar dis seker nodig dat ek vinnig begin blog, want die baba (klein Martin) gaan enige oomblik sy verskyning maak en dan sit ek en slaap wat die blog aanbetref. Julle sal seker 'n belaglike hoeveelheid foto's van 'n lelike gerimpelde klein pienk dingetjie op hierdie blog sien een van die dae. En nee, ek praat nie van die onnoembare nie...


Dis net, ander mense se babatjies lyk maar altyd so half gruwelik. So ek neem aan my laaitie sal ook nou nie juis 'n klein oil painting vir julle ouens wees nie, maar ek verstaan. Ekself het al vir menige trotse ouer 'n fake smile opgesit en gemompel hoe "oulik" die kleinding is, terwyl ek eintlik wonder hoe hulle die honde van die outjie af weghou. Net 'n grappie.


Anyway, ek sal almal sms en e-mail as die groot oomblik gekom het.


Ek wil ook aan Willem Espag sê dat ek bitter jammer is ek het nooit reageer op sy comments nie. Ek het eerlikwaar eers vandag weer na my blog gekyk en toe sy comments gesien. Jammer ek is laat, 'n "skinner rubriek" is seker nou nutteloos synde jy weer terug in die land is. En vra vir Ed van die niggie ding.


Verder gaan ek oudergewoonte weer hierdie jaar my blog gebruik as 'n hulpmiddel vir sosiale kommentaar. Min genoeg mense lees die ding so ek sal nie op te veel tone trap nie. En ek gaan ook minder name noem. Net die mense wat weet sal weet. Jy weet. I aint sayin' yes and I aint sayin' no, I'm just sayin' you know what I'm sayin'?


Kommentaar 1: Ek is verheug oor die vordering van die verhouding tussen 'n sekere paartjie. Hulle lyk quite orraait saam, en nie een is 'n betreklik negatiewe invloed op die ander nie. Ek voorsien net goeie dinge uit daai verhouding voortspruit, en wens hulle voorspoed toe. Maar op 'n stadium moet mens se familie ook net weet wat aangaan. Behalwe as jy dink jou familie is die oorsaak van vorige mislukte verhoudings. Ek weet nie.


Kommentaar 2: Ek wonder of daar nog 'n skerfie verhouding oor is by die ander man. Hulle sms nog so nou en dan mekaar, en ek weet nie of daar so nou en dan nog 'n smk ook is nie (sondag middag knippie). In ieder geval, uit daai ene gaan ek uitbly, ek gaan te veel na my ma klink as ek goed sê soos "Die Wiel draai" en "'n donkie stamp sy kop net een keer".


Kommentaar 3: Stormers rugby sucks. In fact, mens kan dit nie eers rugby noem nie. Stormers skeloeloe sucks.


Kommentaar 4: Protea krieket lyk op dreef. Ek voorspel steeds 'n semi final plekkie in die Wêreldbeker oor twee maande.


Kommentaar 5: Die onderstaande mannetjies is moer funny. Genuine. Kyk hulle Sondagaande om 22:00 op MTV. Jy sal jou breek. Wel, ek en Ed doen.


Kommentaar laaste: meer 'n vraag: Hoekom is vrouens op hul vrygewigste by troues, kitchen teas en stork parties? Hoekom is mans op hul vrygewigste in kroeë, bachelors parties en strip clubs? Hoekom raas die buurman se partytjie net as jy nie genooi is nie? En hoekom, o hoekom, moet ek vir 50 minute in 'n tou staan by die poskantoor net om as ek voor kom te hoor ek moet die pakkie by die bliksem langsaan afhaal. Ek meen, die afskorting tussen hulle is 5 voet hoog. Komaan!!


This page is powered by Blogger. Isn't yours?